Testimonials from some our our patients

Dr. Marcl C Niemandt, sy span asook Solidariteit en almal betrokke.

Daar is dankies en dan is daar opregte dankies uit 'n mense se hart en siel.  Dankie dat daar nog mense soos u en u span is wat soveel  omgee vir sy medemens.  Mense wat deur die Here as instrument gebruik word om hul kundigheid en goedhartigheid op mense wat dit nodig het uit te straal.  Om beter te sien is nie net beter sig nie, maar ook om die goedheid van mense beter raak te sien.  Deur mense soos u word daar deure oopgemaak waardeur lig skyn en 'n mens kan sien. 'n Dowwe lamp kan nie sy lig na wense skyn nie, maar 'n nuwe lamp kan weer skyn.  'n Arend kan nie sweef sonder sig nie, maar met sig kan jy sweef en nuwe hoogtes bereik. 

 

Met opregte waardering en opregte dankbaarheid, seënwense en laat daar altyd lig in u almal se lewens wees en skyn.  Dit is die grootste geskenk wat ek nog ooit ontvang het. 

 

Baie dankie.  Die Here het my gebede verhoor.

-Carel Kruger- 

Goeiemiddag,

Ek weet nie eintlik waar om te begin, om my dankbaarheid teenoor Helpende Hand, Dr Niemand en sy personeel, asook alle rolspelers betrokke ten opsigte van die katarak sjirurgie vir behoeftige bejaardes uit te spreek nie.

My ma, Drien, was een van die kandidate vir die sjirurgie.  Sy was baie opgewonde, asook senuweeagtig, aangesien sy al meer as twee jaar sukkel met die katarakke en sy by die staatshospitale keer op keer teleurgestel was.  Hulle het haar bespreek vir ‘n operasie net om weer te sê hulle doen nie daardie dag die operasie nie, sy moet die volgende jaar weer terugkom.  Haar lewe het basies begin stilstaan agv die feit dat sy amper nie meer sig in haar oog gehad het nie.  Sy bly alleen en was haar veiligheid ook vir ons ‘n groot bekommernis.  Haar prosedure was vol uitdagings, aangesien haar oog baie agteruitegaan het.  Dr Niemand het egter aangehou en nie opgegee nie.  Hy het my ma so op haar gemak laat voel, en sy het volle vertroue in hom gehad.  Sy het net geweet hy sal haar kan help.

Ek kan nie beskryf watter verskil dit in my ma, en ons kinders, se lewens gemaak het nie.  My ma is nou so onafhanklik, en die operasie het van haar ‘n ander mens gemaak.  Sy het soveel meer selfvertroue en haar menswaardigheid het ook teruggekom.

Almal betrokke by hierdie projek is engele direk uit die Hemel.  My grootste gebed is dat almal betrokke so geseën sal word in die mate waarin hulle hierdie mense se lewens verander het.  Iemand wat nie hierdie pad geloop het nie, sal nie besef watter verskil dit in hierdie mense se lewens maak nie (nie net fisies nie, maar veral emosioneel).

Ek wil net weereens spesiaal Dr Niemand bedank vir sy geduld, passie en toewyding wat hy aan die dag gelê het om my ma weer te kan help sien.  Baie dankie ook aan Elanie vir haar vriendelikheid en geduld om al die vrae te kan hanteer.

Mag julle almal voorspoedig wees in alles wat julle aanpak en mag die Here sy seën duisendvoudig oor julle uitstort.

Baie dankie weereens uit ons harte uit.  Ons sal julle nooit kan vergoed nie.

-Verne Joubert (Mev. Joubert se dogter)-

Call and schedule a consultation today!

012 809 6027